Elke jaar is daar mos so buzz-woord vir die nuwe jaar. Ek dink nou aan twenty twenty vision, twenty twenty fun, twenty twenty new en so aan. Hierdie jaar is dit mos twenty twenty thrive wat veronderstel is om jou hoop te gee vir die jaar wat voorlê.
Ek het egter in die middel van my visiebord vir 2025 geskryf dat dit die jaar is van vernuwing, en my adres vir die jaar is Jes. 43:19 “Ek gaan iets nuuts doen”.
Nuwe geleenthede, nuwe idees, nuwe deure wat oopgaan, nuwe horisonne en nuwe avonture. Sover het die jaar my nie teleurgestel nie, en sommer ’n paar nuwe uitdagings, nuwe onsekerhede en nuwe bekommernisse ook ingegooi.
Onthou jy hoe Jesus vyfduisend honger mense kos gegee het met net twee vissies (die Bybel sê dit was klein VISSIES) en vyf brode? En hoe Andreas, heeltemal menslik, wou weet hoe op aarde dit sou moontlik wees om so groot skare te voer met so min kos?
Ek het in Januarie so bietjie soos Andreas gevoel.
My nuwe pakkie uitdagings, onsekerhede en bekommernisse lyk vir my te groot in vergelyking met die vyf brode wat ek het om te gee, en ek het nie eers twee vissies nie.
Sommer vinnig gaan soek ek toe my dankbaarheid bottel van verlede jaar, waar ek elke keer wat ek dankbaar was vir iets, dit neergeskryf het op ’n papiertjie en in die bottel gegooi het.
Soos ek lees, sien ek hoeveel wonderwerke tussen al my dankbaarheidsbriefies lê, en ek besluit net daar dat ek hierdie jaar ’n wonderwerk bottel gaan maak, want dis wat ek nodig het. ’n Bottel vol wonderwerke.
Somtyds moet mens in geloof vorentoe beur, om die Here toe te laat om die onmoontlike in wonderwerke te verander, en wanneer God van jou verwag om in geloof te wandel en honderd persent op Hom te vertrou, is dit omdat Hy wil hê dat jy SELF, met jou eie oë die wonderwerke moet sien.
My bottel het al ’n volle vier regte egte wonderwerke in, en twintig FAITH en twintig het skaars begin!
Kopiereg: Claudia Scheepers