Menu Close

Koshuiskind

Ek was van vroeg af in my lewe, uit eie keuse ’n koshuiskind.
My skool was twee ure van my tuisdorp af, en ons moes stikdonker, kussing en kombers in tou, die pad elke Maandag-oggend aandurf.
My ma was altyd die een wat my teruggevat het na ‘n naweek tuis, en ek het nooit regtig gewonder hoekom my pa nooit die rywerk doen nie.
As ’n ding werk dan werk hy mos.
Tot ek myself so jaar gelede in dieselfde bootjie bevind.
My langeraat-seunskind met die sagte hart en sagte lewensuitkyk, wil die koshuislewe alleen in ’n vreemde stad aandurf.
Aartjie na sy vaartjie (en sy moedertjie).
My hart het bokgespring van opgewondenheid vir hom, en toe sommer net duskant my voetsole in ’n hopie neergesak.
Nou verstaan ek hoekom my pa my nooit teruggevat het op ’n Maandag nie, en ek weet presies wat weekliks tussen my ma en die Here, in die twee ure oppad terug huistoe gebeur het.
Daar’s ’n spesiale bak in die hemel wat ’n ma se trane opvang, veral wanneer sy haar kosbaarste besitting alleen die wêreld moet instuur, en dan moet omdraai en wegry.
Daai trane is vrek groot!
Die een voordeel vir my, -en dis waar brood sy plek sal moet volstaan, is dat dit nou die koshuis-tannies se moeilikheid is om 300 hol seuns, drie keer per dag vol te maak.
En as my somme reg is, verloor hulle al die pad!
As jy soos ek, vandag jou koshuiskind moet aflaai, stuur ek vir jou ’n ekstra drukkie.
Ek weet die Here se bak staan reg vir ons.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *