Menu Close

EK IS

EK IS

Ek en myself praat vanoggend met mekaar, terwyl ons vir mekaar in die spieel kyk.

Ek lees weer al my ou joernale wat ek van my skooldae af geskryf het. Dankie tog vir papier en ink, anders het ek haar al lankal vergeet. 

Sy’s vir my ’n vreemdeling tussen die bladsye vol hartjies, aandenkings en gekleurde ink, asof ek verskillende lewens in hierdie leeftyd geleef het. 

Die meisie van sestien, een-en-twintig, dertig en twee-en-veertig is nie een dieslfde nie.

Een-en-twintig-jarige ek lag oopbek met haar kop agteroor, terwyl sy op die kombuistafel sit – sorgvry, alwetend, die wêreld voor haar uitgestrek.

Dertigjarige ek het sakkies onder haar oë van babas, kleuters en lang werksure. Daar is min fotos van haar, want sy het altyd agter in die ry gaan staan, haar drome opsy geskuif.

Twee-en-veertig-jarige ek staar vanoggend vir my terug – my oupa en my ma se frons op haar voorkop, fyn plooitjies langs haar oë – bietjie wyser, tevrede, sinkpaaie en snelweë agter haar. 

Die buitekant en die binnekant voel nie dieselfde nie, want binne lyk sy nog soos die meisie op die kombuistafel en buitekant sit al die dowwe letsels waar die lewe haar harde lesse geleer het, die aandenkings van storms wat sy oorleef het.

Spyt het plek gemaak vir tevredenheid, en dankbaarheid het teleurstelling eenkant toe geskuif. 

Ek voel dieper en het liewer.

Ek is die melkweg en ek is die woestyn. 

Ek is die bosveld en ek is die see.

Die son voel anders op my vel, en die gras onder my voete is groen genoeg.

Die spore wat ek agter laat is nie myne nie.

Ek is, want Hy is.

Kopiereg: Claudia Scheepers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *