Ons noem dit die brood-spook, ek en my kleinsus.
Daai reuk wat die hele huis vol sweef en jou van ver af roep om huistoe te kom.
Hy kom haal jou doer diep uit jou grootmens-grot en dra jou terug na jou kinder-onthou, van om die tafel sit met ’n skeef gesnyde brood uit die oond en ’n bottel konfyt in die middel. Die botter trou sommer net daar met die dik sny warm brood.
Die brood-spook kom party oggende van die Griekse kafee af, en dan roep hy verblykte herinneringe op van my ma wat die gebrande stukkie wil hê en my pa wat die korsies debs. My sus sny haar korsies af.
En ek, ek smeer die botter dikker as die skewe sny brood, met ’n stewige skep vyekonfyt uit die bottel waarop my Ouma Nannie se handskrif nog voortleef.